Breyten Breytenbach: Vir Fred Orban en Kleinbos

Posted on Mon July 11, 2016.

Die digter Breyten Breytenbach het ‘n tere verbintenis met die Kleinbos/Boggomsbaai area.

Vir Fred Orban en Kleinbos

 

jy skryf winter kom vroeg vanjaar

proe-proe aan die lug soos 'n koue gedagte

vroetel-voel aan die see en woel

die branders om : binnekort

is die hele kontrei `n seisoen donkerte

 

wat beteken dat walvisse eersdags

hulle gladde skaduwee-lywe voorlangs

in die water sal kom karbonkel

en inkvlekke laat in die diep papier i

n jou huis op die duin sal jy viool speel

met jou vingers vaart-vat oor die huilsnare

sodat die glydiere geil mag boog

die nagwind teen die ruite is soutgrys maanstof,

oordags word die glans van die see geskil

 

vandag in 'n tuin onder bloeiende kersiebome

van 'n vreemde land se hoofstad

waar so baie verstarde drome van mag

gevurk gaan op rydiere gegiet in brons

het ek die wynglas van die hart geklink

met 'n mede uitgewekene

Soos 'n belydenis het ons gemymer oor die winter

van ons geboorte terwyl donker soogdiere in my ou-kop se water

spuit en plons

 

ek skryf vir jou hierdie bloeisel van verlange

miskien kan jy dit as groet aan die walvisse

oorvertel op jou wildeviool.

 

Breyten Breytenbach

(Washington, Junie, 1996)

Ook onder die titel ‘Vroeg Winterbrief : aan Fred’ gepubliseer